NIE net kan jy nou weer rook en drink nie, maar ’n groep mense mag ook nou kuier om ’n braaivuurtjie.

Ja, jy mag nou wel weer jou gwais rook en lawaai­water enjoy, maar jy sal dit op ’n verantwoordelike wyse­ moet doen.

Dít is die boodskap van die minister van samewerkende regering, dr. Nkosa­zana Dlamini-Zuma.

Sy het Maandagmiddag verdere besonderhede gegee oor die lockdown se vlak 2-regulasies, wat Dinsdag in werking tree.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Saterdagaand aangekondig het die hele land sal van vlak 3- na vlak 2-regulasies beweeg.

Ramaphosa het gesê die verbod op die verkoop van alkohol en entjies sal nou gelig word.

Drank mag van Maandae tot Donderdae net tussen 09:00 en 17:00 verkoop word.

Dr. Dlamini-Zuma het bevestig kroeë, shebeens en taverns mag operate en drank bedien, maar hulle moet 22:00 sluit.

Sy het verduidelik mense mag byeenkom, maar net solank hulle aan die lockdown-regulasies voldoen.

Dit wil sê – nie meer as 50 mense mag byeenkom nie, hulle moet steeds social distancing handhaaf en hul hande gereeld was.

Gyms, strande, casino’s, parke en museums is nou ook oop onder dieselfde streng protokolle.

Nagklubs bly egter steeds gesluit.

Beroep

Jy kan nou ook ’n braai by jou huis gooi, maar slegs ’n maksimum van 10 mense mag saam kuier.

Dlamini-Zuma doen ’n beroep op inwoners om drank en tabak verantwoordelik te gebruik.

Volgens haar is dronk mense geneig om te baklei en dan beland hulle in die hospitaal.

Sy sê dit kan onnodige druk op die gesondheid­sektor plaas.

Dlamini-Zuma erken egter daar is geen bewyse dat rokery dadelik tot asem­halingskwale sal lei nie.

Sy voeg egter by: “As jy ophou rook, sal jou gesondheid verbeter.

“Daar is egter nou genoeg beddens in die hospitale, asook voldoende suurstofmasjiene.

“Dit is waarom die regulasies gelig word.

“Ons wil ook vra dat mense nie entjies deel nie, want dit kan tot besmetting lei.

“Ons het ook gedurende die lockdown-periode gesien hoe padongelukke gestyg het weens mense wat dronk bestuur.”

Gekruisig

Dokter Doek het bygevoeg sy is nie in charge van die regering nie en sy kan dus nie alleen verantwoordelik gehou word vir staatsbesluite nie.

Dít kom nadat baie mense haar gekruisig het oor die verbod op sigaretverkope.

Source: Die Son

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *