‘N TWEEDE golf van Covid-19-infeksies het Suid-Afrika getref, het Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Woensdag aangekondig.

Daar was die afgelope week ‘n styging in infeksies in die Wes-, Oos-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal, maar getalle neem ook toe in die ander provinsies.

Die meerderheid van nuwe gevalle (30%) is in die Wes-Kaap aangeteken gevolg deur die Oos-Kaap (24%), KZN (23%) en Gauteng met 17%.

Suid-Afrika het 6 079 nuwe gevalle die afgelope 24 uur bygekry en die dodetal staan op 22 574.

Mkhize sê die afgelope twee dae het ‘n skerp styging in infeksies onder die ouderdomsgroep van 15 tot 19 jaar gesien. 

“Dit is ‘n nuwe kwessie en wat die meeste kommer wek. Dit is blykbaar weens ‘n aantal partytjies onder jongmense wat drink, nie maskers dra nie en nie voldoen aan die farmaseutiese ingrypings nie.

“Ons het verelde week ‘n verslag gekry van KZN  waarin ons kan sien die patroon is meer wydverspreid. Dit lei uiteindelik tot superverspreider-aktiwiteite wat na ander dele van die land oorspoel omdat die ouderdomsgroep hoogs beweeglik en meestal asimptomaties is.”

Mkhize sê dit kan die gesondheidsorgstelsel onder druk plaas en daarom kyk die nasionale corona-virus-bevelsraad na maatreëls vir hoe om groot partytjies en byeenkomste stop te sit.

Souce: Die Son

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *