ASHTON. – Die DA het wyksraadslid Niklaas Beginsel (48) die deur gewys.

Son het vroeër hierdie jaar berig oor Beginsel wat in die plaaslike streekhof op aanklagte van bedrog skuldig bevind is.

Voordat Beginsel in die raad gedien het, was hy by ’n bekende supermark as bestuurder werksaam.

Vrygelaat

Hy is daaraan skuldig bevind dat hy oor ’n lang tydperk geld van die supermark gesteel het.

Sy lawyer, Keith Sheldon, het aan die hof gesê sy kliënt het R27 000 gesteel en om versagting betoog oor Beginsel ’n gesin het na wie hy moet omsien.

Beginsel is vir effektief vier jaar tronk toe gepos.

Hy’t daarteen geappelleer en is toe op streng borgtogvoorwaardes vrygelaat. Hy het toe weer sy stoel in die raad ingeneem.

Hieroor was die opposisiepartye egter glad nie happy nie.

Mense van die gemeenskap wat in daardie stadium die hofsaak bygewoon het, was ook baie ontevrede dat Beginsel terug in die raad is.

Stanley Papas, sekretaris van die EFF in die Langeberg-streek, het gesê Beginsel het ’n misdaadrekord en kan nie weer op die raad dien nie.

Samuel du Plessis, raadslid van Icosa, het aan Son gesê die DA gee voor hy is gekant teen korrupsie, maar verwelkom dan ’n misdadiger terug in sy midde.

Son het gister probeer om kommentaar van Beginsel se kant af te kry.

Sy selfoon was af. Hy het teen druktyd ook nie ge­reageer op ’n boodskap wat via Facebook aan hom gestuur is nie.

Die Langeberg-munisipaliteit se Riaan de Jong sê die DA se federale raad het Beginsel se lidmaatskap opgehef.

Redes

De Jong sê Beginsel moet gevolglik alle posisies ontruim wat hy binne die party beklee.

De Jong wou nie uitwei oor die redes agter die opheffing van Beginsel se lidmaatskap nie.

Hy het gesê dis ’n interne aangeleentheid.

SOURCE: DIE SON

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *