GOLDEN Arrow-busdienste het Donderdagaand nog ’n bus verloor weens brandstigting en vandalisme.

Die mees onlangse busbrandstigting het in Mfuleni plaasgevind. Die voertuig is heeltemal vernietig.

Bronwen Dyke-Beyer­, Golden Arrow-woordvoerder, het gesê daar was Donderdagaand ook twee mislukte petrolbomaanvalle en twee Vrydagoggend.

“Dit is die negende bus wat vanjaar heeltemal vernietig is en elke bus kos sowat R2,4 miljoen om te vervang.

“In hierdie stadium is die motief steeds onbekend, want daar is geen protes­aksie of -aktiwiteite in die omgewing nie. Een ligte besering is Vrydagoggend aangemeld,” het Dyke- Beyer gesê. 

Dis nog erger as berekeninge gedoen word oor hoeveel pendelaars hierdeur gestrand gelaat word. Dit knou die ekonomie ernstig oor werknemers nie by hul werkplekke kan uitkom nie.

Voeg daarby die skade in die onlangse verlede wat aangerig is aan treinwaens, wat ook die een ná die ander in vlamme opgegaan het, en die situasie raak kritiek.

Die vrae ontstaan: Wie sit daaragter, en is dit doelgerigte sabotasie? 

Opgeskort

Dyke-Beyer het gesê: “Dienste is nie opgeskort nie; ons herlei busse in die gebied.” 

Sy het gesê tans het Golden Arrow nog genoeg busse oor om pendelaars te akkommodeer. 

Son het verlede maand berig oor twee busse wat heeltemal vernietig is toe dit in Philippi met petrolbomme bestook is.

Vóór die berig was daar sporadies soortgelyke voorvalle.

Source: Die Son

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *