OUDTSHOORN. – As gevolg van Covid-19 lyk vanjaar se Krismis maar droewig wat presente betref.

Maar as dit van meester Japie Coetzee, oudskoolhoof en speaker, afhang, sal daar Krismistyd joy wees.

Coetzee vertel: “Alles het begin toe ’n laitie met twee fietswiele by my opdaag. Hy wou toe hoor of ek ’n frame het sodat hy vir hom ’n fiets kan opbou.

“Die seun, Damian Ewerts, wou sy droom om sy eie fiets te besit waar maak. Toe besef ek daar is mos baie ander kinders wat droom van presente.

“Maar met die lockdown en Covid-19 gaan ouers sukkel om vir hul kinders presente te koop.

“En met vier maande oor tot Krismis het die gedagte vir die projek Toy for Joy by my ontstaan.

Vroeg

“Daardeur wil ek die gemeenskap betrek om te help om joy in kinders se Kersfees te sit.”

Damian se Krismis het baie vroeg gekom, want ’n weldoener het reeds vir hom ’n fiets gekoop.

Volgens Coetzee sal dit waardeer word indien mense speelgoed wat nie meer gebruik word nie aan hom gee.

Dit kan maar stukkend wees.

“Ek sal dit self by die huise kom oplaai en weer mooi maak. Enige geskenkies is welkom. Armoede is ’n geweldige uitdaging in ons gemeenskappe.”

Lesers wat Toy for Joy wil steun, kan Coetzee bel by 082 598 7273.

Source: Die Son

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *