DIE speel van beroepsrugby in Suid-Afrika kan straks in September begin.  

Jurie Roux, uitvoerende hoof van SA Rugby, het Donderdag die nuus van die Suid-Afrikaanse regering verwelkom dat rugby die groen lig gekry het om onder sekere voorwaardes na die speelveld terug te keer. 

Dié nuus is Donderdag deur Nathi Mthethwa, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, voorgelê.

Dit maak voorsiening vir ‘n terugkeer na mededingende aksie onderworpe aan die nakoming van maatreëls om die verspreiding van COVID-19 te voorkom. 

Die aanwysings bepaal dat kontakoefeninge kan begin en wedstryde in leë stadions gespeel kan word. Slegs ’n beperkte aantal persone  mag deelneem aan wedstrye.

Dit vorm deel van noodsaaklike dienste om hierdie geleenthede moontlik te maak en moet slegs in ’n bio-veilige omgewing geskied. 

Roux het gesê: “Sedert die begin van die pandemie, werk ons hard daaraan om te verseker dat ons weer op die veld kom. Ons het die regering op die hoogte gehou van ons planne deur die loop van die proses.

 “Ons is baie dankbaar vir die geleentheid om na die volgende fase van ons planne te keer. Ons sal die departement uiteraard van al die nodige inligting voorsien, soos plekke vir wedstryde, om ‘n gladde oorgang na mededingende rugby te verseker. 

“Die agt spanne wat onlangs na die oefenveld teruggekeer het, het nog ‘n paar weke van voorbereiding nodig voordat hulle gereed sal wees vir wedstryde. Van SA Rugby se kant af sal ons hulle help met alles wat nodig is. “Op die oomblik hoop ons om ons eerste games teen vroeg tot middel September te speel. Die  planne vir die struktuur van die beplande kompetisie sal mettertyd aangekondig word. Daar is verskillende opsies om te oorweeg.” 

Die Bulls, die Lions, die Sharks, die Stormers, die Cheetahs, die Southern Kings, Griekwas en die Pumas het almal ‘n paar weke gelede met oefeninge sonder kontak begin. Die terugkeer na internasionale kompetisie word volgens die nuwe regulasies nie toegelaat nie, maar Roux het gesê dat hy verstaan dat die regering die terugkeer na normaliteit  moet infaseer. 

“Ons weet dat World Rugby (beheerliggaam) se vensterperiode vir die Rugby Championship eers in November en Desember is.

So ons is hoopvol dat die regering mettertyd in staat sal wees om die beperkings verder te verslap,” sê Roux. 

“Vir die oomblik is die belangrikste ding om te verseker dat ons die aksie aan die gang sit, aangesien ons baie belanghebbendes het, soos ons uitsaaivenoot, kompetisie en spanborge en ons ondersteuners wat graag weer wil rugby sien.”

Source: Die Son

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *